HIV/AIDS in South Africa: a case of failed responses because of stigmatization, discrimination and morality, 1983 - 1994.

06 March 2012

Die artikel ondersoek die aard van stigmatisering, diskriminasie en moraliteit in die Suid-Afrikaanse samelewing nadat MIV/VIGS ook hier sy verskyning gemaak het. Aanvanklik het godsdienstige fundamentaliste homoseksueles daarvan beskuldig dat hulle deur die virus besmet is omdat hulle homoseksueel is. Hierdie sienings is aangevul deur die middelklas waardes van die tyd wat epidemies met sedeloosheid vereenselwig het. Die regering sou feitlik niks doen om voorkoming van MIV in die homoseksuele gemeenskap te bekamp nie. Deur die "ander" (in hierdie geval die MIV/VIGS-Iyer) te stigmatiseer en ook teen die persoon te diskrimineer, kon heelwat Suid-Afrikaners die lyers en die hele vraagstuk rondom MIV/VIGS ignoreer. 'n Nuwe kategorie van onderskeiding is so geskep: "ons" (die gesonde heteroseksuele gemeenskap) en "hulle" (die besmette homoseksuele gemeenskap). Stigmatisering en diskriminasie teenoor swartmense, wat alreeds lank in die Suid-Afrikaanse konteks bestaan het, het teen 1987 'n nuwe dimensie bygekry toe die eerste swart heteroseksuele persoon as MIV+ identifiseer is. Die persepsie het nou toegeneem dat alle swartes vir die epidemie verantwoordelik gehou behoort te word. Hierdie rassistiese siening het baie daartoe bygedra dat enige anti-MIV/VIGS program van die regering, hoe goed bedoel ook al, as gevolg van 'n gebrek aan legitimiteit in die swart gemeenskappe verwerp is. Gevolglik is niks effektief in die 1980s gedoen nie. Dit wil voorkom of die hoofargument wel onderskryf kan word: dat stigmatisering van en diskriminasie teenoor gemarginaliseerde groepe, rassisme en homofobie sowel as 'n konserwatiewe moraliteit wat 'n sterk invloed uitgeoefen het, daartoe gelei het dat 'n gulde geleentheid om MIV/VIGS te bekamp, verlore gegaan het.