Impressions on aspects of the process – and outcomes – of curriculum transformation in History for schools after 1994 in South Africa.

20 January 2012

• Opsomming: Die aanbreek van die 21e eeu het ook wêreldwye veranderinge in geskiedenisonderrig getoon. Dit was sigbaar in vele gewysigde of nuwe kurrikula binne veral die verdere onderwys- en opleidingsfase (hoërskole) asook binne die strukture van handboekontwikkeling vir skole. In Suid-Afrika het hierdie tendense saamgeval met ‘n tydperk van transformasie in die onderwys sedert veral die oorname van die African National Congress as regerende party vanaf 1994. In die algemeen was die verandering in Suid-Afrika binne alle vlakke van die samelewing op die een of ander wyse geraak deur die woord “internasionaal” of “globaal” . Na sowat 15 jaar van transformasie in Suid-Afrika dus reeds verloop het, is die resultaat ook sigbaar in die veranderinge wat ten opsigte van die geskiedeniskurrikulum deurgesien is, asook die benadering wat gevolg is in skoolhandboeke as die praktiese resultaat hiervan. Die artikel is gestruktureer om aspekte te debatteer wat aanleidend was tot die omvorming van veral die Geskiedeniskurrikulum. Onder meer is polities belaaide gevoelens en persepsies van die dag, die status van empiriese navorsing binne geskiedenisonderrigpraktyke deur akademici sowel as die rol van die intellektuele lui binne die raamwerk van sogenaamde onderwysvooruitgang ook ter sprake. Om meer te fokus op ‘n bepaalde aspek binne ‘n breë tema soos hierdie rakende “onderwysvooruitgang”, is die Graad 12-vlak se hersiene kurrikulum en skoolhandboeke wat onlangs publiseer is as die mikrosnit uitgesonder vir hierdie bespreking. Van die kern gevolgtrekkings oor “onderwysvooruitgang” in Geskiedenis as skoolvak is dat die hersiene Graad 12 kurrikulum van Suid- Afrika ook nie daarin kon slaag om vlekkeloos te wees van i) die politieke sentimente van die dag nie en nog minder van die dominante leierskap en mag van die Regering binne die kurrikulumveranderinge. ii) Voorts ook is onderwysvooruitgang (metodologie en globale/internasionale tendense) wel heel sigbaar in die kurrikuluminhoud verdiskonteer maar nie noodwendig effektief of korrek benader nie. iii) Verder nog blyk dit dat empiriese navorsing en in-diepte-waarnemings deur tersiêre navorsingsinstansies rakende die mees sinvolle hersiening van inhoude om die klaskamerpraktyk in geskiedenis te verbeter sowel as die inhoude van handboeke tot ‘n hoër kwaliteit te laat ontwikkel, ietwat skipbreuk gelei het as gevolg van etlike redes. Ten opsigte van die Suid-Afrikaanse konteks, sal hierdie probleme en/of leemtes in die nabye toekoms meer sigbaar moet verbeter, anders is die meeste navorsing met die oog op vooruitgang gedoem tot ‘n waardeloosheid.