Progress towards legislative transformation: a critical assessment of the 1956 and 1998 water acts regarding municipal water supply.
20 January 2012• Opsomming: Inwoners van Suid-Afrika behoort deurlopend herinner te word dat hulle ‘n waterarmland bewoon en dat kennis oor die fisiese omgewing en die aard en omvang van effektiewe openbare bestuur van watervoorsiening van strategiese belang is. Die oppervlakte- en grondwater wat in die rivieropvanggebiede saamvloei is hidrologies en geohidrologies verbind deur die hidrologiese kringloop. Laasgenoemde manifesteer in ‘n natuurlike omgewing wat nie net gekenmerk word deur ‘n toestand van wye diversiteit en kompleksiteit nie, maar ook deur die behoefte aan goed gestruktureerde openbare dienslewering op veral die plaaslike regeringsfeer. Teen die einde van April 1994 was die voorsiening van openbare drinkwater en basiese sanitasiedienste aan al die landsinwoners op al die owerheidsfeer- en veral die plaaslike regeringsfeeragendas die hoogste in die openbare diens geskiedenis van Suid-Afrika. Gevolglik is die Regering nie net meer gemoeid met die verskaffing van genoegsame drinkwater alleen nie, maar ook met die fasilitering van die implementering van ‘n holistiese en geïntegreerde benadering aangaande die effektiewe, doeltreffende en ekonomiese bestuur van die ontwikkeling, vervoer, opgaar, behandeling en verspreiding van water. As die enigste bestuurder en bewaarder van die land se waterbronne is die Departement van Waterwese en Bosbou (DWAF) sedert veral die oorgang na ‘n demokratiese bestel in 1994 proaktief in die evaluering van bestaande beleidsdokumente sowel as die voortbring van verbeterde wette en uitvoerbare openbare beleid aangaande waterbestuursaspekte in die land. Dit is ook opmerklik dat primêre nasionale wetgewing aangaande die bestuur van openbare water sedert die 1956 - en die jongste 1998 waterwetgewing transformasie ondergaan het en dat die mees optimale voertuig tot meer effektiewe, doeltreffende en ekonomiese implementering van die nuwe getransformeerde openbare waterverwante wetgewing die 284 munisipaliteite in die land is. Dit is dan ook op hierdie regeringsfeer waar die spreekwoordelike ‘motorkarwiel die teerpad tref’ en die sukses al dan nie, van nuut geïmplementeerde openbare beleid evalueer kan word. Die fokus van die artikel is om vanuit ‘n dissiplinêr geïntegreerde perspektief die toepassing van watergewing in Suid-Afrika op munisipale owerheidsfeer krities in oënskou te neem.