A historical overview of the study of family business as an evolving field.

18 January 2012

• Opsomming: Ten einde ‘n begrip van die unieke aard van familieondernemings te bevorder, het daar met verloop van tyd talryke konseptuele modelle en benaderings tot die studie van familieondernemings ontstaan. In ‘n poging om te beskryf hóé hierdie studieveld sedert sy ontstaan ontwikkel het, poog hierdie artikel om ‘n historiese uiteensetting en beskrywing te gee van dié tersaaklike modelle en benaderings. Vroeëre benaderings het op die tipiese probleme van familieondernemings gefokus, en is later opgevolg deur ‘n nadere beskouing van die karaktereienskappe van die stigters van sulke ondernemings. Hierna volg die toepassing van die stelselsteorie, wat die familie en die besigheid as oorvleuelend, interaktief en interafhanklik beskryf. ‘n Verdere uitbreiding van hierdie model voeg ook die dimensie van eienaarskap tot dié van die besigheid en die familie by. ‘n Tekortkoming van baie van hierdie vroeër modelle is dat tyd en veranderinge buite rekening gelaat word. Die drie-dimensionele ontwikkelingsmodel oorkom dié probleem deur te toon dat elk van die drie subsisteme (eienaarskap, bestuur en familie) met verloop van tyd deur verskillende stadia beweeg. Die uitgebreide ontwikkelingsmodel van familieondernemings (DMFB) bou voort op vorige modelle deur die inkorporering van die bykomstige eienaar, besigheid en familie eienskappe, sowel as een addisionele eienaarskapsveranderlike. Die “Bulleye”, ‘n ope sisteembenadering, wat vlakke van ontleding behels, hanteer sommige van die basiese tekortkominge van vorige modelle. Dit blyk ook duidelik dat ’n bydrae tot die groei van die studieveld van familieondernemings te danke is aan die multi-dissiplinêre benadering wat deur navorsers in die veld gevolg word. Konsepte en teorieë vanuit ander dissiplines soos, onder andere, Psigologie, Sosiologie, Bestuur, Ekonomie, Regte en familiesisteme teorieë, word byvoorbeeld geïntegreer en toegepas om ’n beter begrip te verkry van hoe hierdie unieke tipe ondernemings funksioneer. In aansluiting hierby blyk dit dat as gevolg van die groot aantal familieondernemings wat wêreldwyd bestaan, hul belangrikheid tot nasionale ekonomieë en hul unieke aard, sowel as hul hoë mislukkingskoers, alles faktore is wat bygedra het tot die belangstelling van navorsers van ’n verskeidenheid vakdissiplines, en wat hul inspireer om hierdie tipe ondernemings te bestudeer. As gevolg hiervan was die groei in die studieveld van familieondernemings werklik beduidend. ’n Historiese beskouing van die studieveld van familieondernemings toon dat navorsing steeds gemoeid is met dieselfde kwessies, naamlik dié van opvolging, prestasiemeting en vergoeding, en ook die bestuur van familieondernemings, wat tot dusver die redevoering van die afgelope 20 jaar oorheers het. Die meeste navorsing is steeds gegrond op gevestigde teorieë afkomstig vanuit ander dissiplines. Gevolglik bly ‘n soliede teoretiese begronding in gebreke, en is die studieveld ietwat gefragmenteerd ten opsigte van sy fokus en bevindinge. Ondanks die toename in die aantal empiriese studies, wat gekenmerk word deur nougesetheid en groter steekproewe, word die veld nog steeds oorheers deur geykte navorsingsmetodes en ontledingsinstrumente. Dít dra nie by tot ‘n diepgaande begrip van die dryfveer van empiriese waarneming nie. Met die ondersoek van die studieveld kan die gevolgtrekking gemaak word dat alhoewel navorsing oor familieondernemings reeds gevorderd is, lei dit nog steeds as ‘n bestuursveld aan relatiewe isolasie. Dit sal nog lank neem voordat familieondernemings as ’n onafhanklike studieveld ‘n noemenswaardige invloed op die openbare beleide, besluite en verbeterde bestuurspraktyke sal hê, óf selfs vakliteratuur oor familieondernemings verder sou uitbrei.