They also served: ordinary South African women in an extraordinary struggle: the case of Erna de Villiers (Buber)
17 January 2012Met die ontplooiing en vestiging van die Apartheidsbeleid1 in Suid-Afrika na 1948 het by ‘n groot gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking teenstand teen die beleid van afsonderlike ontwikkeling ontstaan. Gedurende die tydperk 1948 tot 1960 is ‘n hele reeks wette aanvaar om die skeiding van rassegroepe in Suid-Afrika aan te moedig. Grootskaalse weerstand teen die reeks diskriminerende wette het onder die swartmense ontwikkel. Vroue uit alle kleurgroepe het tydens die “Apartheidsjare” (1960 tot 1990) aan versetaksies in Suid-Afrika deelgeneem om hulle misnoeë met inperkende wetgewing te kenne te gee. Ander het bydraes gelewer om ‘n verskil te maak in die lewens van mense wat onder rassisme gebuk gegaan het. Vroue se betrokkenheid op hierdie fronte was dikwels geminag. Hulle minderwaardige plek in die destydse samelewing was moontlik ‘n faktor. Desnieteenstaande het hierdie vroue se bydraes ‘n verskil help maak. Vir hierdie doel val die kollig op verskeie vroue se bydraes, waaronder enkele bekende asook minder bekende vroue. Erna de Villiers (Buber) is ‘n spesifieke voorbeeld om die rol van ‘n vrou wat tydens die Apartheidsjare ‘n prominente bydrae gelewer het, uit te wys. Haar rol onder swart skoolleerlinge word beklemtoon.