"Allowed such a state of freedom": women and gender relations in the Afrikaner community before enfranchisement in 1930.
17 January 2012• Opsomming: Hierdie artikel argumenteer dat Afrikanervroue gedurende die eerste twee eeue van die nedersetting aansienlik meer regte geniet het onder die Romeins-Hollandse reg as wat die geval was met vroue wat onder die Engelse regte sorteer het. Hul posisie is verder onderskraag deur die stelsel van ras-gebaseerde slawerny, toenemende segregasie in die kerk, en die belangrike funksies wat die boervrou op die plaas gespeel het. Afrikaanse vroue kon nie stem nie en ook nie ampte in die politieke stelsel of kerk beklee nie, maar hulle het hul stempel op die samelewing afgedruk. Hulle het ‘n leidende rol gespeel in die besluit van talle grensboere om die kolonie te verlaat. Onder die vroue wat die Groot Trek meegemaak het, het vurige anti-imperialistiese sentimente ontwikkel, wat uiting gevind het in sterk ondersteuning vir die Transvaalse opstand in 1880-81 en die Bittereinder-fase van die Suid-Afrikaanse Oorlog. Van die laaste kwart van die negentiende eeu is die sterk posisie van die Afrikaanse vrou ondergrawe deur verreikende veranderings in die erfreg, verstedeliking, wat haar rol dikwels tot die huis beperk het, en die toenemende invloed van sowel Viktoriaanse as nasionalistiese opvattinge oor die ondergeskikte rol wat die vrou behoort te speel. Afrikaanse vroue het eers laat op die stemreg aangedring omdat hulle dit as hul prioriteit beskou het om die eerste gesin en die gemeenskap se belange te bevorder. In die eerste 250 jaar van blanke vestiging aan die Kaap het hulle `n deurslaggewende rol gespeel in die ontwikkeling van daardie eienskappe wat vandag as kenmerkend van die Afrikaner-identiteit beskou word: godsdienstigheid, `n bepaalde vorm van huislike lewe en die kultuur van die plaas- en landelike lewe.