Cape Town in 1829.

11 January 2012

• Opsomming: Na die Britse besetting van die Kaap (1806) het die bevolking van die moederstad stadig toegeneem; teen 1829 was die inwonertal ruim 18000 en het bestaan uit invloedryke Engelse handelaars, Hollandssprekende persone, Vry Swartes en slawe. Onhigiëniese toestande het oor die algemeen geheers en gesondheidsdienste het veel te wense oorgelaat. Die lewensomstandighede van minder gegoede Blankes en die Vry Swartes was haglik en is vererger deur armoede, swak behuising, siektes en selfs epidemies. Deur Ordonnansie 50 van 1828 is die inheemse bevolkingsgroepe weliswaar met persone van Europese herkoms gelykgestel; die beginsel van integrasie was ook sosiaal aanvaarbaar. Tog was die gemeenskap nag op ʼn stelsel van slawerny aangewys en rassedifferensiasie in die samelewing was steeds merkbaar. Die handel en algemene vooruitgang is voorts deur ontoereikende hawegeriewe gestrem. Strate was stowwerig en onverlig, terwyl die oop waterkanale (gragte) vuil en ongesond was. In hierdie stadium het enkele klein woonbuurte (soos Seepunt en Wynberg) reeds bestaan; die plaaslike bestuur van Kaapstad was in die hande van die magistraat en amptenare war deur die regering aangestel is. ʼn Hooggeregshof is in die lewe geroep en tien advokate en elf prokureurs het teen 1829 in Kaapstad gepraktiseer. In teenstelling met die betreklik swak maatskaplike toestande, is ruim voorsien vir die opvoedkundige en godsdienstige behoeftes van die inwoners. Ook die kulturele lewe aan die Kaap was lewendig en ontspanningsgeriewe redelik goed. Teen 1829 was Kaapstad inderdaad besig om, veral onder die invloed van Britse immigrante, ʼn nuwe vorm aan te neem.