A new town at Uitvlugt: the foundation and development of pinelands 1919 - 1948.

10 January 2012

• Opsomming: ʼn Jaar nadat die griepepidemie van 1918 hom in die Kaapse Skiereiland uitgewoed het, het Richard Stuttaford, lid van die Kaapstadse stadsraad en toonaangewende persoonlikheid in die Verenigde Kamers van Koophandel van Suid-Afrika, ʼn bedrag van £10 000 bewillig vir die stigting van 'n "tuinstad" (Pinelands) op die plaas Uitvlugt. Hy was oortuig dat die sterftesyfer gedurende die epidemie aansienlik laer sou wees indien die behuisingtoestande beter was. Die aanleg van 'n "tuinstad" – soos wat hy te Pinelands beoog het – sou na sy mening 'n oplossing vir die vraagstuk van swak behuising bied. Hierdie dorp se ontwikkeling dien as voorbeeld van 'n unieke proses op die gebied van stadsbeplanning; die proefneming van 'n plaaslike bestuur binne die raamwerk van 'n metropolitaanse kompleks (Kaapstad) is trouens van historiese betekenis. Na die Eerste Wêreldoorlog het die totstandkoming van Pinelands 'n belangrike uitwerking gehad op die behuisingtoestand wat toe in die land geheers het. In die artikel word klem gelê op die bestuursinstellings en administratiewe reëlings wat met die stigting en ontwikkeling van die dorp gepaard gegaan het veral vanweë die invloed daarvan op die gemeenskap.