Aquaeductus en sommige gevolge van goeie buurmanskap : Zeeman v De Wet 2012 6 SA 1 (HHA)

09 Oct 2013

Dit is alombekend dat die grondserwitute wat op water betrekking het, te wete dié van waterleiding (aquaeductus) en waterhaling (aquaehaustus), tesame met die drie serwitute van weg (nl die reg om te voet of te perd oor die dienende grondstuk te beweeg (iter), die reg om diere oor die dienende eiendom aan te jaag (actus) en 'n algemene reg van weg oor die dienende eiendom (via)), van die oudste grondserwitute - in die besonder iura praediorum rusticorum - is (Kaser I Das Römische Privatrecht (1971) 143; Van Oven Leerboek van Romeinsch Privaatrecht (1948) 146; Van Warmelo 'n Inleiding tot die Studie van die Romeinse Reg (1957) 161; vgl Van der Merwe en De Waal "Servitudes" XXIV LAWSA 470 476) wat deur die loop van die eeue behoue gebly het en via die Romeins-Hollandse regsbronne 'n stewige vastrapplek in die Suid-Afrikaanse reg verwerf het (vgl Van der Merwe Sakereg (1989) 481 ev, 492 ev; Badenhorst, Pienaar en Mostert Silberberg and Schoeman's The Law of Property (2006) 326). Om hierdie rede sou 'n mens geregverdig kon aanneem dat die grondbeginsels van 'n serwituut soos aquaeductus, wat in die onderhawige saak die onderwerp van geskil was, na 'n tydperk van twee millennia reeds met 'n uiterste mate van sekerheid gevestig is en dat dit hoogs onwaarskynlik is dat 'n regsvraag wat oor een van die fundamentele beginsels daarvan handel, die aandag van die regbank in die hoogste hof van appèl sou kon verg.