Volhoubare fasiliteitsbestuur in winkelsentrums in Pretoria

Access full-text article here

Tags:

Peer-Reviewed Research
  • SDG 17
  • SDG 6
  • Abstract:

    Alhoewel volhoubare fasiliteitsbestuur toenemend erkenning in ontwikkelende lande geniet en in veral nuwe geboue geïmplementeer word, is daar min inligting beskikbaar oor volhoubare praktyke in fasiliteitsbestuur wat plaaslik in Suid-Afrika, en veral in Pretoria, toegepas word. In hierdie artikel word vyf belangrike gebiede vir volhoubare fasiliteitsbestuur in winkelsentrums ondersoek, naamlik energieverbruik, watergebruik, materiaal- en hulpbronbestuur, interne omgewingskwaliteitbestuur en liggingsbestuur. Verder is daar vasgestel watter volhoubare fasiliteitsbestuurstrategieë en -metodes tans op hierdie gebiede toegepas word asook watter persepsies by eiendomsbestuurders oor volhoubare fasiliteitsbestuur in winkelsentrums in Pretoria bestaan. Vir doeleindes van hierdie studie was alle winkelsentrums in Pretoria met ’n handelsoppervlakte van 10 000m² of groter geïdentifiseer. ’n Totaal van 69 winkelsentrums het aan die vereiste minimum grootte voldoen. Vraelyste asook een-tot-een onderhoude met eiendoms- en sentrumbestuurders is gebruik om die toepassing van volhoubare fasiliteitsbestuur te karakteriseer. Waar die winkelsentrums deur die eienaars self bestuur word, is onderhoude ook met die eienaars gevoer. Voltooide vraelyste is van sowat ’n kwart van die totale steekproefpopulasie, verteenwoordigend van ’n verhuurbare oppervlakte van 765 835m2 en 1 663 winkels terug ontvang. Byna 90% van die respondente het aangedui dat die ‘eiendomsbestuurs’funksie intern uitgevoer word, teenoor meer as 94% wat die ‘fasiliteitsbestuurs’funksie intern bestuur. Daar is bevind dat volhoubare fasiliteitsbestuurspraktyke wel toegepas word in winkelsentrums in Pretoria, maar dat daar ’n duidelike voorkeur bestaan vir praktyke wat lei tot finansiële besparings, welke praktyke dan ook algemeen toegepas word. Praktyke wat bydra tot sosiale en omgewingsdoelwitte word tot ’n veel mindere mate toegepas, as gevolg van die persepsie dat sulke praktyke nie lei tot finansiële besparings of bydra tot die bestuur van die sentrums nie en dus as minder belangrik geag word.