The regulation of successive fixed-term employment in South Africa : a quest for the right to fair labour practices

Access full-text article here

Tags:

Peer-Reviewed Research

Abstract:

Die sluit van opeenvolgende vastetermyn diensverhoudings tussen werkgewers en werknemers is 'n bekende gebruik in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark. Die uitbuiting van kwesbare werknemers in veelvoudige opeenvolgende diensverhoudings word juis gekenmerk deur werkgewers wat doelbewus 'n diensverhouding van onbepaalde tydsduur vermy sonder dat daar enige noemenswaardige regverdiging vir so 'n besluit bestaan. Dikwels berus so 'n besluit bloot op die werkgewer se behoefte om 'n groter mate van beheer oor die tydperk van die diensverhouding uit te oefen, sonder om deur die regsvereistes van 'n billike ontslag gekniehalter te word. Verminderde finansiële uitgawes is 'n verdere voordeel waarop baie werkgewers in die verlede gesteun het omdat vastetermyn werknemers oor die algemeen nie dieselfde vergoeding en byvoordele as permanente werknemers ontvang nie. Lidlande van die Europese Unie moet voldoen aan minimum standaarde vir die sluit van opeenvolgende vastetermyn kontrakte of -verhoudings ingevolge Direktief 1999/70/EC van 28 Junie 1999. Die Europese wetgewer se doel met hierdie Direktief is om die ongegronde sluit van opeenvolgende vastetermyn kontrakte of -verhoudings te verbied en om gelykheid te bevorder en onbillike diskriminasie van genoemde kategorie werknemers te voorkom. Die instel van spesifieke maatreëls word van al die lidlande vereis. Groot klem word geplaas op dialoog tussen alle rolspelers, veral die verteenwoordigers van georganiseerde arbeid en werkgewers. Elke groep se behoeftes moet in ag geneem word alvorens sodanige maatreëls in nasionale wetgewing vervat word. In Suid-Afrika verkry alle werknemers in 'n vastetermyn verhouding regte teen onbillike ontslag deur die gewysigde artikel 186(b) van die Wet op Arbeidsverhoudings 66 van 1995, ongeag wat hul jaarlikse inkomste behels. Artikel 198B van daardie wet verleen slegs regte aan vastetermyn werknemers wat minder as die plafonbedrag per jaar verdien soos deur die minister van arbeid van tyd tot tyd vasgestel. Vastetermyn werknemers wat meer as die genoemde bedrag verdien, geniet saam met ander nie die beskerming van die vereiste van regverdiging en die verbod op diskriminasie daarin vervat nie. Ten aansien van diesulke werknemers is die werkgewers dus vrygestel van die nakoming van die statutêre vereistes wat dié aspekte beheers. Die wetswysigings het 'n leemte gelaat en stel 'n nuwe vorm van diskriminasie daar en laat nie aan elke vastetermyn werknemer se reg op gelykheid en billike arbeidsverhoudings reg geskied nie.