Spel en die spelende mens in Die sneeuslaper (Marlene van Niekerk), Klimtol (Etienne van Heerden) en Wolf, Wolf (Eben Venter)

Access full-text article here

Tags:

Peer-Reviewed Research
  • SDG 17
  • SDG 16
  • Abstract:

    Die doel van hierdie artikel is om aspekte van spel as artistieke aktiwiteit in die hede (dit wil sê binne ’n bepaalde periode en sosiale kontekste) te verken, asook die wyse waarop die spelbeginsel en die spelende mens in die literatuur manifesteer. Die fokus is op spesifieke gekose onlangse Afrikaanse literêre tekste, naamlik Die sneeuslaper (2009) van Marlene van Niekerk, asook Etienne van Heerden se Klimtol (2013) en Eben Venter se Wolf, Wolf (2013), want ten spyte van ooglopende verskille is spel en die spelende mens ’n definitiewe gemene deler. Die artikel bied eerstens ’n oorsig oor enkele opvattings en filosofiese redenasies ten opsigte van die denkbeeld van spel met betrekking tot die kunswerk / literêre teks in die algemeen, en poog terselfdertyd om ’n paar kenmerke van spel toe te lig. Tweedens word die spelbeginsel in die genoemde literêre tekste ondersoek en gekontekstualiseer, terwyl insgelyks aandag geskenk word aan die kunsteoretiese opvattings wat met spel verband hou van die betrokke skrywer. Benewens die poëtikale speletjies word daar in die onderskeie tekste ook sosiale, politieke en psigologiese speletjies gespeel. Daar word voorts aangetoon dat die spelende mens in die tekste wat verken is, telkens verband hou met die idee van relasionaliteit, hetsy in positiewe of negatiewe verband. Die implikasies van die spelbeginsel vir die leser word ook in die ondersoek betrek, want die spelbeginsel het terselfdertyd betrekking op die verhouding teks-leser en dwing vir die leser leserbetrokkenheid af juis vanweë die erns van die spel.