Riviere as identiteitskonstrueerders

Access full-text article here

Tags:

Peer-Reviewed Research

Abstract:

Die bundel jeugherinneringe “Met ’n eie siekspens” (Engela van Rooyen) en die roman “Manaka: plek van die horings” (Pieter Pieterse) vul mekaar aan as literêre vergestalting van die verskynsel dat die menslike lewe en identiteit beïnvloed word deur ’n aspek van die karakters se natuurlike omgewing, naamlik die rivier. Hierdie ondersoek fokus op die aard en omvang van die invloed van riviere op die identiteitsvorming van karakters in hierdie twee prosawerke. In “Met ’n eie siekspens” hou die vormende rol van die Oranjerivier verband met ’n komplekse verbintenis tussen mens en rivier waarbinne elemente van verknogting bots met dié van verknegting. Die lewenswaardes wat die rivier en rivieromgewing die karakters leer, is kernkomponente van hulle identiteit. In “Manaka: plek van die horings” blyk die hoofkarakter se droom oor ’n lewe op die Zambezi deel te wees van sy identiteit deurdat dit selfrealisering behels en sy denke en selfbeskouing sedert kindsbeen rig. Die rivier en omgewing speel egter ook ’n sentrale rol in die latere herinterpretasie van sy lewensdoel en die verkryging van ’n breër begrip van sy ware identiteit. Die ondersoek onderstreep die belang van navorsing oor die uitbeelding van die verhouding tussen mens en natuur binne die groter studieveld waarin die uitbeelding van identiteitskwessies in die Afrikaanse letterkunde ondersoek word