Reise in identiteit: aspekte van plek en hoort in verhale van Elsa Joubert en Riana Scheepers

Access full-text article here

Tags:

Peer-Reviewed Research
  • SDG 17
  • SDG 10
  • Abstract:

    ’n Ondersoek na die belewing van plek en die veranderende aard daarvan in die verhaal “Bloed” (uit Melk, 1980) van Joubert en enkele verhale uit Scheepers se bundel Die ding in die vuur (1990) dien om vas te stel wat die rol van plekbelewing is ten opsigte van identiteitsvorming in hierdie verhale. Uit “Bloed” blyk die dinamiese wyse waarop plekbelewing identiteit beïnvloed: op ’n enkele dagreis verander die hooffiguur se ervaring van vreemdelingskap in Afrika na ’n identiteitsvereenselwiging met Afrika; ’n proses wat direk verband hou met ’n drasties veranderde belewing van plek in die verhaal. Al die kernaspekte van identiteitskonstruksie – geslag, klas, ras en seksualiteit – is betrokke by hierdie heroriënteringsproses en die gelyktydige intertekstuele toeeiening en ondermyning van ’n klassieke Westerse gedig vind plaas in die uitbeelding van die kragtige aanpassingsreaksie in terme van plek- en identiteitsbelewing by die postkoloniale situasie. Scheepers se verhale “Tweede kind”, “Drie sinvolle gesprekke” en “Dom koei” verteenwoordig fases in die veranderende identiteitsbelewing wat ooreenstem met die identiteitsreis in “Bloed”, maar die identiteitsaanpassing vind meer subtiel en geleidelik – intratekstueel uitgespeel oor drie verhale – asook minder volledig plaas. Die veranderde aard van plekbelewing, soos uitgebeeld by wyse van die topologiese struktuur van die verhale en die effek van die filter-fokalisering, steun weereens die proses van perspektiefverandering op en identifikasie met Afrika