"Ons ís mense. My kinders hét gesigte." Die natuurlike omgewing en die konseptualisering van die self in Karretjiemense (Carol Campbell)

Access full-text article here

Tags:

Peer-Reviewed Research

Abstract:

Carol Campbell se debuutroman, My Children Have Faces: A Novel About the Karretjiemense of the Karoo (2013), in Afrikaans vertaal as Karretjiemense, is die verhaal van ’n brandarm, nomadiese Karoo-gesin, voortdurend op reis met hul donkiekar. Hulle leef as “onsigbare” mense: op grond van hulle lae sosiale peil en ongeletterdheid verag of geïgnoreer deur die samelewing, op grond van hulle haweloosheid en gebrek aan identiteitsdokumente negeer deur die owerheid. Tog demonstreer elke lid van Muis en Kapok se gesin ’n unieke besef van eiewaarde en van die persoonlik onderskeidende eienskappe wat verband hou met wie en wat hy/sy werklik is. Die ondersoek is daarop gerig om vas te stel in watter mate die invloed van die natuurlike omgewing bewys kan word in die prosesse van die identiteitskonstruksie van die karretjiemense in hierdie roman en op watter wyse hierdie beïnvloeding gestalte kry in die karakters se konseptualisering van die self. Daar word bevind dat Muis en haar mense hulleself op aktiewe wyse met die natuur verbind: deur die proses van betekenisgewing waarby hulle op kognitiewe, affektiewe sowel as spirituele vlakke betrokke is en deur hulle interaksie met die natuur op fisieke en emosionele vlak. Die karakters se individuele belewing van en reaktiewe betrokkenheid by die Karoo-omgewing is die kernfaktor in die ontwikkeling en bevestiging van persoonlike identiteit, asook van elkeen se gevoel van te behoort. Elke karakter in die karretjiegesin demonstreer op eiesoortige wyse die effek van hulle natuurverbintenis op die konstruering van selfkennis en -identiteit.