Rehabilitasie in die Suid-Afrikaanse verbruikersinsolvensiereg : internasionale tendense en riglyne

Access full-text article here

Tags:

Peer-Reviewed Research
  • SDG 13
  • SDG 6
  • SDG 3
  • Abstract:

    Rehabilitasie na sekwestrasie ingevolge die Insolvensiewet 24 van 1936 is die enigste wyse waarop 'n natuurlike persoon ingevolge die Suid-Afrikaanse verbruikersinsolvensiereg 'n kwytskelding van voorinsolvensie skuld op sy of haar skuldeisers kan afdwing. Alhoewel skuldenaars ook skuldverligting kan bekom deur die prosesse van administrasie en skuldhersiening te inisieer, maak hierdie prosesse nie vir enige kwytskelding voorsiening nie. Verder: alhoewel 'n kwytskelding een van die gevolge van rehabilitasie is, is dit nie 'n hoofdoelwit van die Insolvensiewet om skuldverligting aan skuldenaars te verleen nie en is 'n kwytskelding beskore slegs vir skuldenaars wat oor voldoende bates beskik om voordeel vir skuldeisers te bewys. Daarteenoor is rehabilitasie en derhalwe die verlening van 'n sogenaamde fresh start (oftewel 'n vars begin) 'n hoofdoelwit van verbruikersinsolvensieregstelsels wêreldwyd. Ingevolge die Wêreldbank se nuutste verslag oor verbruikersinsolvensie moet die ekonomiese rehabilitasie van skuldenaars een van die hoofdoelwitte van 'n verbruikersinsolvensieregstelsel wees. Die standpunt is dat die verlening van 'n blote kwytskelding ingevolge insolvensiewetgewing nie voldoende is om aan skuldenaars 'n betekenisvolle fresh start te verleen nie. Blywende skuldverligting moet verleen word en skuldenaars moet in staat gestel word om oorbesteding in die toekoms te vermy. In hierdie artikel word rehabilitasie ingevolge die Suid-Afrikaanse verbruikersinsolvensiereg ondersoek met die doel om dit teen internasionale tendense en riglyne te meet en uiteindelik voorstelle vir regshervorming te maak. Die onderskeid tussen die Anglo-Amerikaanse "straight discharge"- en die Europese "earned discharge"-benaderings word onder die vergrootglas geplaas en met die Suid-Afrikaanse regsposisie vergelyk. Die ondersoek toon dat die Suid-Afrikaanse stelsel, vergeleke met ander stelsels, in 'n baie beperkte mate op die rehabilitasie van skuldenaars gerig is. Daar word aan die hand gedoen dat regshervorming aan die hand van die belangrike grondbeginsels van rehabilitasie soos uiteengesit in die Wêreldbankverslag moet plaasvind. Alle skuldenaars, ook diegene wat nie voordeel vir skuldeisers kan bewys nie, moet in staat wees om 'n kwytskelding van skuld te ontvang. Insolvensiebeperkings en onbevoegdhede wat voor en na rehabilitasie op skuldenaars van toepassing is, moet sover moontlik afgeskaal word en die wetgewer moet aandag gee aan wetgewing en meganismes wat op die bevordering van verantwoordelike kredietgebruik gerig is.