Depressie en die wêreld van werk – ’n arbeidsregtelike perspektief

Access full-text article here

Tags:

Peer-Reviewed Research
  • SDG 10
  • Abstract:

    Afrikaans: Depressie raak tans meer as 121 miljoen mense wêreldwyd en sal waarskynlik teen 2020 die tweede mees algemene toestand ter wêreld wees. Aangesien depressie op die gemiddelde ouderdom van 25 kop uitsteek, is dit vanselfsprekend dat dit ’n uitwerking op ’n land se arbeidsmag sal hê. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) omskryf depressie as “’n algemene geestesongesteldheid wat kronies of herhalend kan word en wesenlike beperkings kan oplê aan ’n individu se vermoë om sy of haar daaglikse verantwoordelikhede na te kom”. Wanneer hierdie omskrywing met die maatstawwe vir gestremdheid ingevolge Suid-Afrika se Goeie Praktykskode vir die Indiensneming van Persone met Gestremdhede vergelyk word, wil dit voorkom asof depressie in bepaalde omstandighede as ’n gestremdheid aangemerk kan word. Deur ’n vergelykende studie van die gestremdheidsverwante wette in die Verenigde Koninkryk (onder meer die Equality Act van 2010 en die Disability Discrimination Act van 1995) en die bestaande Suid-Afrikaanse wetgewing en statutêre instrumente (waaronder sowel bogenoemde Goeie Praktykskode as die Goeie Praktykskode vir Ontslag, die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, die Wet op Gelyke Indiensneming en die Wet op Arbeidsverhoudinge), dui hierdie navorsing daarop dat die Suid-Afrikaanse statute en instrumente gebrekkig is wat betref die mate van beskerming wat dit aan sowel werknemers met depressie as hul werkgewers verleen. Alhoewel die Goeie Praktykskode vir die Indiensneming van Persone met Gestremdhede ’n nuttige riglyn is om die billike hantering van mense met gestremdhede te bevorder, kort Suid-Afrika instrumente met voldoende regsgeldigheid wat uitsluitlik oor gestremdheid handel en spesifiek vir depressie in die werkplek voorsiening maak. Tans word depressie as die “stiefkind” van gestremdheid behandel en ontvang dit weinig formele erkenning as regverdiging vir siekte en/of ongeskiktheid. Hierdie artikel stel dus voor dat die wetgewing van die Verenigde Koninkryk as model vir Suid-Afrika dien om verdere wetgewing op te stel ten einde werknemers met depressie meer doeltreffend teen onbillike diskriminasie te beskerm en terselfdertyd oor die ekonomiese belange van die werkgewer te waak.