Rehabilitation of an insolvent and advantage to creditors under the Insolvency Act 24 of 1936 - Ex parte Purdon 2014 JDR 0115 (GNP)

30 May 2019

Hierdie vonnisbespreking handel oor ’n aansoek om rehabilitasie wat op die feit dat geen eise teen die boedel bewys is nie gegrond is. Die oorkoepelende kwessie was of die applikant haar rehabilitasie verdien het, in die lig van die sekwestrasie-misbruik wat volgens die hof klaarblyklik plaasgevind het. Die hof het bevind dat die applikant die sekwestrerende hof mislei het met betrekking tot die vraag of aan die voordeel vir skuldeisers-vereiste voldoen is en het gevolglik die aansoek geweier. Die doel van hierdie bespreking is om die beslissing te analiseer en te evalueer spesifiek met verwysing na die huidige onderliggende filosofie van die Suid-Afrikaanse verbruikersinsolvensiereg om vir ’n kollektiewe skuldinvorderingsprosedure voorsiening te maak wat hoofsaaklik daarop gemik is om die maksimum voordeel vir skuldeisers teweeg te bring. Die vraag is of die Suid-Afrikaanse wetgewer se klem op hierdie doelwit en ons howe se streng afdwinging daarvan, steeds gepas is in die lig van die internasionale tendens om eerder aan die sogenaamde fresh start-doelwit en sy gepaardgaande sosiale versekeringsfunksie voorkeur te verleen. Die hof se verknogtheid aan die voordeel vir skuldeisers-vereiste is deurgaans duidelik en sy opmerkings met betrekking tot die vereistes wat vir rehabilitasie gestel word, is aanduidend van ons howe se onsimpatieke houding oor die algemeen dat ’n insolvent sy rehabilitasie moet verdien, daarvoor verantwoording moet doen en sy rehabilitasie en voorreg om skuldverligting te bekom, moet regverdig en dus boete daarvoor moet doen. In teenstelling hiermee dui internasionale riglyne daarop dat eerlike skuldenaars wat as gevolg van teenspoed (soos in casu, die verlies van ’n lewensmaat) insolvent geraak het, eerder beskerming in die vorm van ’n kwytskeldingsprosedure gebied moet word en derhalwe nie gestraf moet word nie. Dit word aan die hand gedoen dat die vriendskaplike sekwestrasieaansoek in casu, wat die hof as samespanning en misbruik van proses gebrandmerk het, in werklikheid ’n produk van ’n verouderde sisteem is wat slegs skuldverligting verleen aan skuldenaars wat voldoende bates het om voordeel te bewys. Die beslissing dui daarop dat voordeel vir skuldeisers nie net meer ’n stuikelblok vir insolvente is wat vir hul sekwestrasie aansoek wil doen nie, maar ook vir diegene wat hoop om voor die tien-jaar outomatiese rehabilitasietyperk te rehabiliteer. Die werklike implikasie van die beslissing is egter die feit dat die Suid-Afrikaanse verbruikersinsolvensieregstelsel dringend hervorm moet word. Dit is derhalwe verblydend om te hoor dat die wetgewer tans in die proses is om skuldverligtingsprosedures in te voer wat die kwessie van huishoudings wat met skuld oorbelas is, veral in die laer inkomstegroepe, aan te spreek.